Terugvoerfees 2022 begin nou!

Ons het almal ons eie persoonlike kanons gebou – die fiks, vids, kuns en ander werke waarvoor ons lief is en waarna ons keer op keer terugkeer. In Januarie het ons vir u vertel dat die tema van vanjaar se Internasionale Fanwerkdag (of “IFD”, die Engelse akroniem) ‘Klassieke Fanwerke’ is, en ons het gevra dat u ‘n lys van fanwerke begin saamstel wat u as noodsaaklik beskou, of dit nou vir lees, kyk of luister is.

Nou het die tyd aangebreek, en ons sal graag wil sien waarmee u vorendag gekom het! Hierdie bloginskrywing is waar u al die werke kan deel wat u as klassiek beskou in u gunsteling fandoms. Dit kan werke wees wat hul eie fandoms geïnspireer het, werke wat vir u persoonlik geïnspireer het, of werke wat u kanon in ‘n heel nuwe lig laat sien het – hoe u ook al kies om dit te definieer!

Om deel te neem, lewer komentaar hieronder en deel die besonderhede van enige van die klassieke fanwerke wat u dink regtig nie gemis moet word nie. Moet nie vergeet om na die werk self te skakel nie, en vertel ons hoekom u dit as klassiek beskou. (As u verkies, kan u ook skakel na ‘n bloginskrywing met aanbevelings wat u elders gemaak het en met die hutsteken #IFD2022 gemerk het.)

Natuurlik verdien die skeppers van hierdie fanwerke om ook gevier te word, so wanneer u teruggaan om daardie skakel te gryp, hoekom vertel u nie vir hulle hoe lief u vir hul werk is nie? En moenie vergeet om na ander deelnemers se voorstelle te kyk nie – u kan dalk net ‘n nuwe gunsteling vind om by u persoonlike kanon te voeg.

Geniet dit!


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is ‘n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.

Event

Comments are closed.