OTW Lede – Steminstruksies per E-pos

Teen hierdie tyd moes alle stemgeregtigde lede van die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) ‘n e-pos ontvang het met ‘n skakel na die steminstruksies vir 2023. Die onderwerp was “Voting Instructions for Organization for Transformative Works (OTW) Board Election” (“Steminstruksies vir die Verkiesing van die Organisasie vir Transformerende Werke (OTW) se Raad”). Let daarop dat enigiemand wat nie hierdie e-pos ontvang het nie, vanjaar nie op die kieserslys is nie en dus nie ‘n stembrief sal ontvang nie.

Die e-pos oor stem-inligting bevat ‘n skakel na ‘n toetsweergawe van die stembrief. Volg asseblief die skakel om seker te maak dat die bladsy korrek vertoon en dat die kandidate sigbaar is. Indien nie, maak seker dat u nie JavaScript blok van ajax.googleapis.com en/of bootstrapcdn.com nie.

As u ‘n OTW-lid is en nie hierdie e-pos ontvang het nie, doen asseblief die volgende:

  1. Kyk na u strooipos.
    • As u Gmail gebruik, soek deur u Sosiale oortjie.
    • As die e-pos as strooipos gemerk is, ontmerk dit. Andersins sal u nie u stembrief ontvang nie aangesien dit ook in u strooipos sal beland.
  2. Indien daar nie ‘n e-pos is nie, kyk na die datum op u skenkingskwitansie.
    • Om in hierdie verkiesing te stem moet u kwitansie tussen 1 Julie 2022 en 30 Junie 2023 gedateer wees, insluitende beide datums.
    • Indien u per tjek betaal het word u lidmaatskap uitgewerk volgens die aankomsdatum van die tjek. Let daarop dat u skenkingsbewys in Amerikaanse Oostelike Tyd gedateer word. Indien u donasie na 19:59 op 30 Junie 2023 gemerk word, sal u nie stemreg hê nie. As u nie seker is of u donasie voor die sperdatum gemaak is nie, kontak ons Ontwikkeling en Lidmaatskapkomitee deur “Is my membership current/Am I eligible to vote?” (“Is my lidmaatskap tans geldig/Kwalifiseer ek om te stem?”) te selekteer op die kontakvorm op ons webtuiste.
  3. Indien u donasie gedurende die geskikte tydperk gemaak is, maak seker dat u die blokkie gemerk het om lid te word. Lidmaatskap is vrywillig vir diegene wat minstens VS$10 skenk; slegs lede kan stem.
  4. Indien u wel lid geword het, maak seker dat u geen e-posse van die OTW af as strooipos gemerk het nie, en nie gekies het om nie OTW-e-posse—of laas jaar se stembrief— te ontvang nie. As u dit wel gedoen het en hierdie jaar wil stem, moet u stap 5 hieronder volg.
  5. Indien u gedurende die kwalifiserende periode minstens VS$10 geskenk het en u die blokkie gemerk het om ‘n lid te word, moet u asseblief die Verkiesings-Kontakvorm voltooi en die onderwerp “Is my membership current/Am I eligible to vote?” (“Is my lidmaatskap tans geldig/Kwalifiseer ek om te stem?”) kies. Maak seker dat u dieselfde e-pos adres gebruik wat u gebruik het toe u u donasie gemaak het.
    • Lidmaatskap het geen verband met of mens ‘n gebruiker van Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie) of Fanlore is nie. Moet asseblief nie u AO3- of Fanlore-gebruikersnaam gee nie. Ons sal nie weet aan wie daardie naam behoort nie, en ons wil ook nie weet nie.

Belangriker nog, as u e-pos met stem-inligting bons, as strooipos gemerk word, of as u aan die e-posse ontrek het, sal u nie ‘n stembrief vir hierdie jaar se verkiesing ontvang nie en sal u dalk nie volgende jaar ‘n stembrief kry nie. Net so, as een van hierdie dinge met verlede jaar se verkiesings e-pos gebeur het, sal u nie vanjaar ‘n stembrief ontvang nie. As u dus vroeër aan OTW e-posse ontrek het of dit as strooipos gemerk het maar wil stem, voltooi die Verkiesings-Kontakvorm en kies die onderwerp “Is my membership current/Am I eligible to vote?” (“Is my lidmaatskap tans geldig/Kwalifiseer ek om te stem?”)


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is ‘n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.

Announcement

Comments are closed.