Oktober 2022 Lidmaatskapwerwing: Vier ons Mylpale

Dit is weer daardie tyd van die jaar: die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) hou ons Oktober Lidmaatskapwerwing, en ons sal u ondersteuning waardeer! Die OTW en al ons projekte word 100% deur vrywilligers bestuur en befonds deur u donasies. Elke sent wat ingesamel word, word gebruik om ons bedieners te onderhou, ons werk te ondersteun en ons missie te bevorder om fanwerke te beskerm en te verdedig. Gaan kyk na ons mees onlangse begrotingsberig vir meer inligting oor hoe ons fondse spandeer word.

Behalwe om ons werk te ondersteun, laat donasies bo ‘n sekere bedrag u ook toe om oulike OTW bedankingsgeskenke te ontvang! U kan die volle reeks beskikbare geskenke vind op ons donasie bladsy, maar ons sal ‘n paar hoogtepunte hier uitlig.

  • The Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie) is nou dertien jaar oud — oud genoeg om sy eie rekening op AO3 te kry! Om dit te vier het ons nuwe 13de Herdenking spelde beskikbaar.
  • U mag dalk ook laas maand ons vieringe opgemerk het toe die OTW as ‘n geheel 15 geword het. Ons het ook 15de Herdenking magnete om hierdie geleentheid te vier! Hulle word saamgebondel met plakkers wat beide herdenkings vier. Al die herdenkingsitems is beperkte uitgawes, so as u hou van hoe hulle lyk, maak seker om hulle te kry terwyl hulle hier is!
  • Ons wil ook die fandom konsep speelkaarte noem, wat in April hulle debuut gemaak het en baie gewild is onder ons skenkers. Elke kaart bevat unieke woordkuns wat die soort fannish terme en konsepte (of ‘tropes’) uitbeeld wat in AO3 etikette gevind kan word. Hierdie item is steeds beskikbaar vir diegene wat VS$100 of meer skenk.

As u belangstel in die bedankingsgeskenke maar nie ‘n donasie van hierdie grootte op een slag kan maak nie, moenie bekommerd wees nie! Ons het ‘n plan vir u. U kan ‘n herhalende donasie vir ‘n kleiner bedrag opstel en die vorm in u donasie kwitansie invul om ons Ontwikkeling en Lidmaatskapkomitee te laat weet vir watter geskenk u spaar. Hulle sal dit opsy sit en dit vir u stuur sodra u kumulatiewe totaal die bedrag bereik wat nodig is vir u geskenk.

Die ander vername voordeel van skenk aan die OTW is dat enige donasie van VS$10 of meer u geregtig maak om te stem in volgende jaar se verkiesing vir die Raad van Direkteure wat toesig hou oor die OTW se aktiwiteite. U kan meer lees oor ons verkiesingsproses op die OTW-verkiesings webtuiste. As u in die volgende verkiesing in Augustus 2023 wil stem, kan u vandag ‘n lidmaat word deur ‘n enkele donasie van VS$10 of meer te maak en “become a member” (word ‘n lidmaat) te kies op die donasievorm. Lidmaatskap sal vir een kalenderjaar geld vanaf die datum van u kwalifiserende donasie.

As u nie hierdie keer aan die OTW kan skenk nie, is dit heeltemal reg! En as u ‘n oomblik het, sal ons u hulp waardeer om die nuus van hierdie lidmaatskapwerwing met ander mense te deel. Soos altyd is ons so dankbaar vir alles wat u doen om die OTW en sy vele projekte te ondersteun. Dankie dat u deel is van ons gemeenskap!


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is ‘n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.

Event

Comments are closed.