Oktober 2022 Lidmaatskapwerwing: Dankie vir u Ondersteuning

Ons Oktober Lidmaatskapwerwing het tot ‘n einde gekom en ons is uiters dankbaar vir u vrygewigheid. Ons is bly om aan te kondig dat, danksy 7 683 skenkers in 78 lande, ons ‘n totaal van VS$276 467,69 ingesamel het! Ons is veral bly dat 6 147 van u gekies het om u OTW (Organisasie vir Transformerende Werke)-lidmaatskap te begin of te hernu met u donasie.

Alhoewel die lidmaatskapwerwing vir eers geëindig het, aanvaar ons regdeur die jaar donasies. U kan enige tyd van die jaar ‘n stemgeregtigde lid word—u moet net teen 30 June om 23:59 UTC aansluit om in Augustus in ons jaarlikse raadsverkiesings te stem vir die OTW Raad van Direkteure.

Terwyl ons Ontwikkeling en Lidmaatskapkomitee hard aan die werk is om u bedankingsgeskenke te pos, wil ons ‘n oomblik neem om dankie te sê. Ons sou nie hier wees sonder u ondersteuning in sy talle vorme nie: u finansiële bydraes, Fanlore-artikels, Transformative Works and Cultures – TWC (Transformerende Werke en Kultuur) aanhalings, kommentaar en kudos op Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie), en fanwerke beide oud en nuut. Dit beteken die wêreld vir ons en ons is ongelooflik dankbaar! Baie dankie vir u deelname aan hierdie werwing, en dat u die OTW gemaak het wat dit vandag is.


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is ‘n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.

Event

Comments are closed.