
Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) se Oktober lidmaatskapwerwing het tot ‘n einde gekom en ons is bly om te kan deel dat ons altesaam ‘n ongelooflike VS$195 009,65 ingevorder het, wat ons teiken van VS$40 000 ver oorskry het. Ons lidmaatskap het ook gegroei tot 4 786 lede. Dit is alles te danke aan die vrygewigheid van 6 700 skenkers vanuit 77 lande wêreldwyd. Ons is, soos altyd, so dankbaar vir ons internationale gemeenskap. Dankie! U ondersteuning stel ons in staat om ons missie te dien: om die belange van die fans vir wie ons verteenwoordig te bevorder deur toegang te gee tot, en die geskiedenis te bewaar van, fanwerke en fankultuur in sy vele vorme.
Ons wil ook die vrywilligers bedank wie se diens verseker het dat hierdie werwing so vlot verloop het, en al die gebruikers wat getweet het, bloginskrywings gemaak het en oor die werwing gepraat het met hul vriende en kennisse. U waardevolle hulp laat ons toe om ons doelwitte te bereik. Ons waardeer julle almal baie!
Laastens, moet nie bekommerd wees as u nog nie kans gehad het om ‘n bydrae te maak nie! Ons aanvaar heel jaar donasies. OTW-lidmaatskap, wat beskikbaar is vir diegene wat skenkings van VS$10 en hoër maak, duur ‘n volle jaar vanaf die datum van die mees onlangse VS$10-skenking; so enigiemand wat nou skenk sal in staat wees om te stem in volgende jaar se verkiesing vir die OTW se Raad van Direkteure. Die bedankingsgeskenke wat ons bied vir donasies van VS$40 of hoër is ook deurlopend beskikbaar. Dit is altyd ‘n goeie tyd om te gee!
Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is ‘n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertaling bladsy.