Raadsassistente-komitee

Wie Ons Is

Die Raadsassistente-komitee help die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) se Raad van Direkteure met administratiewe take en projekbestuur. Ons werk ook saam met ander komitees om spesiale projekte wat ekstra ondersteuning vereis te koördineer en te voltooi.

Sommige van ons gewone take sluit in die redigering van Raadspublikasies, die moderering van die OTW Raad se Discord-bediener, die koördinering van projekte en die hersiening van Raadsdokumentasie. Baie van die Raadsassistente-komitee se werk is gefokus op interne OTW-projekte, en daarom het ons baie min teenwoordigheid buite die OTW (behalwe om Raadsvergaderings oor Discord te modereer) – ons is dus nie ’n komitee wat gereeld nuus publiseer of openbare geleenthede aanbied nie.

Alhoewel die Raadassistente-komitee en die Raad nou saam werk, is Raadsassistente-komitee vrywilligers nie Raadslede nie en het ons nie die gesag van Raadslede nie. Byvoorbeeld, vrywilligers in die Raadsassistente-komitee kan nie op Raadsbesluite stem, OTW-beleid instel of interkomitee-geskille bemiddel nie.

Buiten ons werk met die Raad, werk die Raadsassistente-komitee ook saam met ander komitees om kruiskomitee-doelwitte en -projekte te ondersteun. Die doel van die Raad is om die OTW te ondersteun, en ons as vrywilligers van die Raadsassistente-komitee doen ons bes om daarmee te help.

Interne Struktuur

Ons span bestaan ​​gewoonlik uit tussen vyf en vyftien vrywilligers, verdeel in vier spesialisgroepe: Teksredakteurs/Skrywers, Dokumentasiekundiges, Modereerders en Projekspesialiste.

Die Raadsassistente-komitee Teksredakteurs/Skrywers help om nuusberigte, verklarings, beleide en ander dokumente vir die OTW-raad op te stel en te redigeer. Raadsassistente-komitee Dokumentasiekundiges skep en hersien interne OTW-dokumentasie om die verlies van institusionele kennis te voorkom en deursigtigheid te verbeter. Raadsassistente-komitee Modereerders modereer beide die OTW Raad se Discord en kommentaar op AO3- en OTW-nuusberigte. Raadsassistente-komitee Projekspesialiste voltooi spesiale navorsings- of beleidsprojekte vir die Raad en ander komitees.

Elke spesialisgroep fokus op die take wat hierbo uiteengesit is, maar ons werk ook saam en ontvang ondersteuning vanaf ander spesialisgroepe en spanlede. Ons plaas groot klem daarop om saam met ander komitees te werk om hulle met take te ondersteun as hulle ekstra hulp wil hê.

By geleentheid werf die Raadsassistente-komitee ook spesialiste om spesifieke korttermynprojekte of doelwitte te voltooi. Dit kan ’n nuttige manier wees om take aan te spreek wat meer gespesialiseerde kundigheid of kennis vereis wat ons nie tans op die komitee het nie.

Kontak Ons

As u meer wil leer oor die Raadsassistente-komitee, of as u enige ander vrae het, kontak ons as|seblief – ons hoor graag van u af.