Fankultuur Bewaringsprojek

Het u fantydskrifte, fanpamflette, papiermemorabilia of konvensieprogramme wat u nie meer kan hou nie, maar wat u nie wil weggooi nie? Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) kan help!

Oorsig

Die Fan Culture Preservation Project (Fankultuur Bewaringsprojek) is ’n vennootskap tussen die OTW en die Departement van Spesiale Versamelings by die Universiteit van Iowa Biblioteke toegewei daaraan om fan-artifakte soos brief-zines, fantydskrifte en ander nie-digitale fanwerke en memorabilia te bewaar.

Die OTW het al baie fans gehelp om benoemde versamelings by Iowa (sien die biblioteek se webblad van Fandom-Verwante Versamelings) te vestig; fans wat nie genoem wil word nie kan donasies aan die OTW se algemene versameling (OTW Fantydskrif en Fanfiksie Versameling) gee.

Kontak die Oop Deure komitee vir meer inligting oor die skenk van tydskrifte of ander artifakte van fankultuur aan die Fankultuur Bewaringsprojek. (Ander OTW projekte, soos die Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie), Fanlore en die Open Doors (Oop Deure) projek kan u help om digitale fanwerke of artifakte te bewaar.

Waarom is die bewaring van fankultuur belangrik?

Soos Greg Prickman, Assistent-hoof van Spesiale Versamelings by die Universiteit van Iowa, opmerk, “fankultuur antisipeer, en is ouer as, ons moderne remix mash-up internetkultuur”. Die Departement van Spesiale Versamelings het ’n sterk belangstelling in die bewaring van tydskrifte en fankultuur: Iowa is alreeds die tuiste van ’n reuse (250 000) versameling van wetenskapfiksie- en fantasietydskrifte, tydskrifte deur amateur-persverenigings, asook ’n versameling van Riot Grrrl- en Underground Music-tydskrifte.

Die bewaring en beskerming van “transformerende fanwerke en die innoverende gemeenskappe waaruit hulle ontstaan het” is die kern van die OTW se missie.
Brief-zines en fantydskrifte is die tasbare artifakte (en bewyse van die bestaan) van die lanklewendheid van ons fangemeenskappe, waarvan baie histories ondergronds was. Soos wat ons werke verlore gaan en mense afsterf, gaan daardie geskiedenis verlore.

Die OTW glo ook daarin om “fannish aktiwiteite so toeganklik as moontlik te maak vir almal wat wil deelneem”. Deur saam te werk met die Universiteit van Iowa, ’n belangrike navorsingsbiblioteek, help ons om hierdie artifakte van fankultuur in ’n sentrale, toeganklike, nie-winsgewende plek te plaas. Iowa het nie net die fasiliteite om fotostate uit te stuur nie, maar ons ondersoek ook die opsies wat digitisering bied sodat fans en akademici wat nie fisies daarheen kan gaan nie, steeds toegang tot die materiaal kan hê.

Versamelings

Die eerste groot skenking wat deur die OTW bemiddel is, is die Fantydskrif Argiewe, ’n versameling van meer as 3 000 klassieke tydskrifte wat voorheen in Santa Barbara, CA, in die Verenigde State gestoor is—meer as 62 bokse! Die OTW was in staat om die aftredende argivaris, Ming Wathne, te help om hierdie waardevolle versameling te red en te bewaar. Spesiale Versamelings is tans besig om Ming se tydskrifte te sorteer en te boks. Kort nadat dit voltooi is, sal titels in die Fantydskrif Argiewe op die Spesiale Versamelings se blad gelys word. Ons help tans ander jarelange fans om hul versamelings aan die biblioteek te skenk.

U kan ons groeiende lys van versamelings hieronder sien, of u kan die Universiteit van Iowa Biblioteek se Fandom-Verwante versamelings besoek.

  • Mariellen (Ming) Wathne Fantydskrif Argiefversameling (2009)
    Die Fantydskrif Argiefversameling bevat duisende fantydskrifte wat handel oor Star Wars en wat oorspronklik deur Lucasfilm Ltd., vervaardiger van die Star Wars reeks, versamel is. In die 1990s is die offer gemaak om die versameling aan fans oor te handig. ’n Fan van California genaamd Mariellen Wathne het dit aanvaar en het ’n uitlenende biblioteek begin om dit onder ander fans te versprei. Behalwe vir die Star Wars fantydskrifte is daar ook heelwat fantydskrifte oor Star Trek, wat sommige van die belangrikste vroeë stukke insluit. (’n Fonds ter nagedagtenis aan Ming Wathne is by Iowa gestig om hierdie versameling te ondersteun. Sien href=”https://transformativeworks.org/memorial-fund-ming-wathne-established-university-iowa”>hierdie aankondiging vir meer besonderhede.)
  • Die Susan Hill-versameling (2009)
    Susan Hill se versameling bevat ’n aantal Brits-gemaakde Blake’s 7 tydskrifte en brief-zines, asook ’n aantal tydskrifte van ander fandoms en ’n paar multimedia tydskrifte uit die 1990s. Die versameling bevat ook programme en ander konvensiemateriaal van MediaWest en InConJunction, asook ’n kopie van “The Professionals Drinking Game”.
  • Die “Watchers of CIS”-versameling van Highlander fanmateriaal (2009)
    Hierdie Highlander: The Series versameling bevat afdruk-meesters en kopieë van The Prize, ’n nuusbrief deur die fangroep Watchers of CIS. Daar is ook publisiteitsmateriaal, katalogusse vir fan-handelsware, koerantuitknipsels en ander fanartifakte wat verband hou met Highlander.
  • Die Brian Knapp-versameling (2009)
    Hierdie is ’n groot versameling van klassieke tydskrifte van die 1970s en vroeë 1980s. Dit sluit titels soos The Green Dome (The Prisoner), Locus, Menagerie, Spockanalia, Future Wings, The Goddess Uhura, en die Kraith Collected Volumes 1 – 6 in. Ander noemenswaardige items sluit in: “Sing A Song of Trekkin (A Fun-Filled Folio of 20 Trekker ‘Filk’ Songs)”; verskeie jare se jaarlikse tydskrifte van die J.D.I.F.C. (James Doohan International Fan Club); asook aandenkingsprogramme van I-Con, Arisia, MiniTrekCon, Creation Con ’79, en New York Star Trek ’76.

  • Die Debbie Hoover-versameling (2009)
    23 groot bokse met amper 1 500 tydskrifte wat dateer vanaf die laat ’70s/ vroeë ’80s tot die hede. Star Trek, Star Wars, verskeie “cop shows” (polisie reekse), Stargate, X-Files en Robin Hood.
  • Die Morgan Dawn-versameling (2010; in wording)
    *Die Professionals Biblioteek- en Fantydskrifversameling, ’n versameling van Professionals fanfiksie wat in die 1980s en 1990s deur private netwerke versprei is.
    *Die Morgan Dawn Fantydskrif- en Fanvideoversameling; sluit beide fanfiksie en fanvideos in
  • Die Susan M. Garrett-versameling (2010; in wording)
    Katalogus volg binnekort!
  • Donasies aan die algemene OTW-versameling
    * UMF: The ‘Zine for the Creative Duranie was ’n tydskrif vir fanfiksie oor Duran Duran. Daar was tien uitgawes tussen 1993-1998. Ons het tans uitgawes 3, 5 en 6.
    * Versameling van meestal Kung Fu: The Legend Continues en Quantum Leap tydskrifte, asook ’n verskeidenheid tydskrifte oor MacGyver, Rat Patrol en verskeie TV westerns.
    * Versameling van multifandom (bv. Storm Signs, Wounded Heroes), Quantum Leap (insluitend verskeie uitgawes van The Angel and the Dreamer, Quantum Instability en ander), Sentinel en Due South tydskrifte.
    * Versameling van tydskrifte in ’n aantal fandoms, insluitend Alias Smith & Jones, Blake’s 7, Voyage to the Bottom of the Sea, Highlander, Sentinel, en ander.
    * Versameling van tydskrifte in ’n aantal fandoms insluitend The Real Ghostbusters en The Man from UNCLE, asook verskeie multimedia bloemlesings.
    * Versameling van Simon and Simon brief-zines, asook fiksietydskrifte vanuit verskeie fandoms. Hierdie tydskrifte kom oorspronklik vanuit die versameling van Alison Wilson, wat by verskeie fandoms betrokke was tot en met haar dood in die laat 1990s. Sy was ’n ywerige fan en skrywer van fanfiksie, en sy is aangehaal in Textual Poachers deur Henry Jenkins.
    * Versameling van X-Files, Buffy, DS9 en Blake’s 7 tydskrifte geskenk deur Joanna Lowenstein ter nagedagtenis van Beth Kiedrowics, media fan en gereelde bywoner van WisCon. Hierdie tydskrifte kom oorspronklik uit Beth se versameling.

Lees meer

Aankondiging van die Fankultuur Bewaringsprojek, 17 Junie 2009.
Universiteit van Iowa Biblioteke verkry duisende wetenskapfiksie ‘fantydskrifte’, 5 Julie 2009, Associated Press.
UI Biblioteke verkry ‘Star Trek,’ ‘Star Wars’ fantydskrifte, Iowa City Press Citizen, 2 Julie 2009.

Fankultuur Bewaringsprojek FAQ

  • As ek materiaal het om te skenk, met wie moet ek praat?
    Kontak Oop Deure vir hulp met skenkings aan hierdie projek.
  • Ek het bokse [of rakke/kamers/huise] vol tydskrifte! Ek kan nie bekostig om dit Iowa toe te pos nie! Ek kan dit nie eens by die poskantoor kry nie!
    Ons kan help! Die Fankultuur Bewaringsprojek kan reël vir die pos daarvan asook die oplaai van skenkings. Moenie dat koste of lading u keer om te skenk nie.
  • Sal die argiewe in digitale vorm beskikbaar gemaak word?
    Die OTW en die Universiteit van Iowa gaan maniere om sommige van hierdie materiaal te digitiseer ondersoek, sodat fans wat dit wil besigtig toegang kan kry selfs as hulle nie na Iowa toe kan gaan nie. Ons hoop om heelwat van die outeurs van hierdie stories te bereik om hul toestemming te kry om hul werk meer algemeen aanlyn te deel.
  • Wat van fan-privaatheid? Baie fans het stories onder hul regte name gepubliseer.
    Om fans se regte en privaatheid te respekteer is die Universiteit van Iowa en die OTW se grootste prioriteit. Tipiese publieke lyste sal slegs die tydskrif se titel en die fandom insluit (soos volg: “Blake’s Seven: The Other Side 1, 3 [1986-1987]”), dieselfde wyse waarop tydskrifte in ’n biblioteek se katalogus gelys word. Ons hoop egter om die individuele outeurs en uitgewers se toestemming te kry om hul werke meer algemeen aanlyn te deel.
  • Kan ek hierdie materiaal deur interbiblioteek-leenprogramme leen?
    Die items in die versameling bly by die Universiteit van Iowa. Spesiale Versamelings is egter gewillig om tot en met 100 fotostate te maak en te stuur aan akademici en ander partye wat belangstel, teen ’n koste van omtrent US$0.25 per bladsy, volgens hul standaardprosedure. Fans buite die VSA betaal dieselfde prys per bladsy, maar mag dalk addisionele posgeld betaal.
  • Het die Fankultuur Bewaringsprojek enige kriteria oor skenkings gebaseer op taal of land van oorsprong?
    Nee: beide die Fankultuur Bewaringsprojek en die Universiteit van Iowa stel belang daarin om materiaal van fans reg oor die wêreld te versamel, insluitend materiaal wat nie in Engels is nie of wat nie van Engelssprekende lande af kom nie. Ons vermoë om te help met die vervoer daarvan sal egter afhanklik wees van die beskikbare hulpbronne, net soos met skenkings vanuit die VSA.
  • Kan ek my fannish-versameling aan hierdie projek bemaak in my testament?
    Ja. Ons kan u help met die gepaste bewoording vir die bemaking.