Die Internasionale Dag van Fanwerke 2021 is op pad

Dit is amper weer daardie tyd: die Internasionale Dag van Fanwerke (of “IFD”, vanaf die Engelse akroniem) is spoedig op pad! Dit word jaarliks op 15 Februarie gevier en ons het dié jaar baie planne – ons hoop u sal saam met ons kom feesvier!

Wat is die Internasionale Dag van Fanwerke?

Die Internasionale Dag van Fanwerke is in 2014 deur die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) begin en is in 2015 vir die eerste keer gevier. Dit is ‘n vieringsdag vir alle vorme van fanwerke van regoor die wêreld in hul oneindige diversiteit en ongelooflike kreatiwiteit. Of dit nou fanfiksie, podfik, animasie, fanvids, potgooi, fankuns of enigiets anders is waaraan u kan dink, wil ons hierdie geleentheid gebruik om tyd met skeppers en fans deur te bring.

Fanwerke Uitdaging: deel u gunsteling minder-bekende fandoms en fanwerke met ander fans!

Siende dat die Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie) onlangs 40 000 fandoms oorskry het, wil ons nou dinge wat minder bekend is vier – of dit nou ‘n mikrofandom waarby u dink meer mense moet aansluit, ‘n werk of fandom wat meer bekendstelling verdien of ‘n werk in ‘n groot fandom wat u voel misgekyk word, is! Van nou af tot op #IFD2021 wil ons u uitnooi om u gunsteling minder-bekende werke of fandoms met ons op sosiale media te deel met behulp van die #IFDChallenge2021 hashtag (hutsteken). Ons sal dan van ons gunsteling keuses op ons sosiale media kanale van 8 tot 15 Februarie deel.

Ons sal ook graag wil sien dat skeppers klein fandoms, agtergrond-karakters, minder-bekende parings, ensovoorts, uitsoek om werke vir hulle te skep! Van nou af tot 15 Februarie daag ons skeppers uit om ‘n kleiner fandom, paring, karakter, ensovoorts te vind wat vir hulle onbekend is, en ‘n fanwerk daarvoor te skep. Gebruik die etiket “International Fanworks Day 2021” sodat ons almal die nuwe werke kan geniet!


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is ‘n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.