Die AO3 Haal Drie Miljoen Geregistreerde Gebruikers!

Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is bly om aan te kondig dat die Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie) nou meer as 3 miljoen geregistreerde gebruikers het!

Nadat AO3 op 14 November 2009 vir lede van die publiek geopen is, het dit vinnig gegroei. Vier jaar gelede, op 31 Oktober 2016, het ons die mylpaal van 1 miljoen geregistreerde gebruikers bereik en net meer as ‘n jaar gelede, op 17 Julie 2019, het ons 2 miljoen geregistreerde gebruikers getref. Ons kan nie meer opgewonde wees om hierdie nuwe rekord te haal nie.

Ons sou verseker nie sonder u, ons gebruikers – beide geregistreerd en ongeregistreerd – hierdie ongelooflike mylpaal kon haal nie en ons kan u nie genoeg bedank nie.

Dankie vir al u bydraes – u fanwerke, u kommentaar, u kurasie en moderering van versamelings. Ons hoop hierdie mylpaal is net een van nog vele meer, en dat u saam met ons sal groei soos ons vorentoe beweeg.

Alhoewel ons baie dankbaar is vir alle AO3-gebruikers is daar voordele verbonde aan die registrasie van ‘n rekening! Eerstens het u toegang tot geslote werke. Sommige werke word op so ‘n manier geplaas dat dit slegs toeganklik is vir diegene wat ingeteken is.

Tweedens het geregistreerde gebruikers toegang tot AO3-voorkomsvelle wat hul leeservaring kan omskep en wat die AO3 meer toeganklik kan maak. Die Reversi-voorkomsvel, AO3 se weergawe van “dark mode”, is slegs een van vele beskikbare opsies.

Derdens kan u inskryf om in kennis gestel te word as u gunsteling werke opgedateer word of as u gunsteling skeppers nuwe werke plaas. U hoef nie die blad met die hand te verfris om te sien of die fanfik wat u lees opgedateer is nie – ontvang sommer net ‘n kennisgewing in u posbus. Hierdie is natuurlik net drie redes, maar daar is vele meer!

Daar is baie maniere om ‘n geregistreerde gebruiker te word. U kan ‘n versoek aan die AO3 stuur en die wagtyd op die Uitnodiging statusbladsy dophou. As u besonders ongeduldig voel kan u een van u vriende vir ‘n uitnodiging vra! Baie geregistreerde gebruikers het ‘n aantal uitnodigings om weg te gee – as u nie by die waglys wil aansluit nie, is dit die beste opsie.

As dank vir al u ondersteuning deur die jare het ons beide ‘n foon- en rekenaar agtergrond geskep wat u kan aflaai. Laai dit af en neem deel aan die feesviering!

AO3 foon agtergrond
(kies beeld om te vergroot)

AO3 rekenaar agtergrond
(kies beeld om te vergroot)


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is ‘n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertaling bladsy.

Announcement, Archive of Our Own

Comments are closed.