Het jy dit oorweeg om ‘n OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) byeenkoms aan te bied? Of jy nou ‘n groot fondsinsameling of ‘n klein partytjie met ‘n OTW-fooitjiepot beplan, is daar ‘n paar dinge wat jy moet weet oor hoe om skenkings wat by geleenthede soos hierdie gemaak word te hanteer.
Onderskryf die OTW amptelik derdeparty-fondsinsamelings?
Nee, die OTW kan nie enige derdeparty-fondsinsamelings amptelik onderskryf nie, omdat dit belastingkwessies sal skep. Ons is egter bly as iemand geld wil insamel en dit aan ons wil skenk! Jy is welkom om pamflette, lidmaatskapvorms en ander materiaal vanaf ons webwerf af te laai, en om geleenthede te hou wat mense aanmoedig om te skenk en by ons aan te sluit.
Kan mense by die OTW aansluit deur by ‘n derdeparty-fondsinsameling te skenk?
Lidmaatskapskenkings moet per tjek of kredietkaart gemaak word, en moet vergesel word van ‘n lidmaatskapvorm vir elke skenker: óf die elektroniese vorm wat aanlyn ingevul is, óf die papiervorm wat ingestuur is. So as jy ‘n ingevulde vorm en ‘n tjek wat aan die OTW uitgemaak is van elke skenker versamel en dit alles aan ons aanstuur (of verskaf die vorms, maar vra mense om dit self te pos), of ‘n rekenaar beskikbaar maak vir deelnemers om op die plek aanlyn te skenk, dan kan mense wat by die geleentheid skenk lede van die organisasie word.
As jy egter self geld insamel en dit na die OTW aanstuur, hetsy in kontant of as ‘n enkele betaling van jou af, het ons geen manier om individuele skenkers met hul skenkings te verbind nie, en ons kan nie verifieer dat elkeen ‘n regte, individuele persoon is nie. So in daardie geval verleen die skenkings nie lidmaatskap nie, alhoewel ons steeds bly is om dit te ontvang.
In beide gevalle, tensy jy anders versoek, sal die OTW jou geleentheid en die bedrag geld wat dit ingesamel het met dank bekend maak, en jou en die deelnemers in ons nuusbrief bedank. As jy ‘n lys van e-posadresse verskaf (wat ons vertroulik sal hou, in ooreenstemming met ons privaatheidsbeleid), sal ons die deelnemers ook persoonlik bedank.
Waarborg die OTW dat derdeparty-fondsinsameling versoekers die skenkings aan die OTW sal deurgee?
Nee. Die OTW is nie verantwoordelik vir advertensies of aansprake wat deur enigiemand anders gemaak word nie. Soos met enige derdeparty-aandrywing, gee skenkers op eie risiko; ons hoop dat mense eerbaar sal wees, soos hulle in die meeste liefdadigheidsaksies is.
Voordat ek ‘n derdeparty-fondsinsameling hou, moet ek iemand by die OTW kontak om dit amptelik te maak?
Nee. Derdeparty-fondsinsamelings is heeltemal nie-amptelik en die verantwoordelikheid van die individuele organiseerder. Ons hoop dat mense wat fondsinsamelings doen wat die OTW-naam en logo gebruik, eerbaar sal optree.
Is daar goeie tye en slegte tye vir mense om fondsinsamelings namens die OTW aan te bied?
Enige tyd is ‘n goeie tyd om skenkings aan die OTW in te samel en mense aan te moedig om aan te sluit!
Wat sal gebeur indien vyf aanhangers vyf afsonderlike geleenthede by dieselfde byeenkoms wil hou?
Hoe meer, hoe beter. Ons is altyd bly wanneer mense die hoed vir die OTW gee, en ons verskaf graag voorstelle en gratis aflaaibare materiaal om te help.
Kan ander mense OTW-logo’s op promosielektuur en uitnodigings gebruik? Moet sulke gebruik vooraf goedgekeur word?
Jy is welkom om OTW-logo’s en beelde te gebruik om jou geleentheid te bevorder; ons probeer nie ander mense se advertensies te beheer nie. Ons vra wel dat OTW literatuur en inligting, insluitend ons aflaaibare strooibiljette (in Engels) en PDF-lidmaatskap- en skenkingsvorm (in Engels), beskikbaar gestel word by geleenthede soos hierdie. Ons kan vir jou promosiemateriaal pos indien nodig, maar sal dit baie waardeer as jy jou eie kan druk.
Die gebruik van enige OTW-logo vir ‘n derdeparty-geleentheid vorm nie ‘n onderskrywing deur die OTW van enige produk, diens, organisasie of individu nie.
Is skenkings gemaak by derdeparty-geleenthede belastingaftrekbaar?
Die IRS het OTW se belastingvrye 501(c)(3) niewinsorganisasiestatus in die Verenigde State goedgekeur. Ongeag, individuele kwitansies sal nie uitgereik word vir fondse wat deur derdeparty-geleenthede ingesamel word as dit in ‘n enkelbedrag van die geleentheidsorganiseerder aangestuur word nie. Die OTW moedig jou aan om ‘n rekenaar met internetverbinding te voorsien sodat deelnemers lede kan word of direkte skenkings aanlyn kan maak; indien hulle wil, kan kwitansies vir sodanige skenkings uitgemaak word. Alternatiewelik, kan jy kopieë van ons PDF-lidmaatskap- en skenkingsvorm (in Engels) uitdruk en dit beskikbaar stel vir posversending.
As jy buite die VSA is, sal die OTW ook daarvan hou dat jy ‘n fondsinsamelingsgeleentheid aanbied. Dit is egter onwaarskynlik dat skenkings deur belastingowerhede buite die VSA as aftrekbaar beskou sal word.
As jy verdere vrae het of idees wil hê oor hoe om ‘n fondsinsamelingsgeleentheid vir die OTW te hou, kontak asseblief die Ontwikkelings- en Lidmaatskapkomitee.