April 2023 Lidmaatskapwerwing: Dankie vir u Ondersteuning

Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) se April Lidmaatskapwerwing het tot ‘n einde gekom en ons is bly om te kan deel dat ons altesaam VS$252 343,98 ingevorder het, wat ons teiken van VS$50 000,00 ver oorskry het. Die donasies kom vanaf 7 852 mense in 71 lande: dankie aan elkeen van hulle, asook aan almal van u wat inkrywings op sosiale media oor die werwing gemaak het en die nuus gedeel het!

Ons is veral bly dat 6 450 skenkers gekies het om OTW-lidmaatskap te hernu of te begin. Die OTW sou nie bestaan sonder sy lede en gebruikers regoor die wêreld nie, en u voortdurende ondersteuning maak ons ongelooflik trots! Ons is so bly om te weet dat ons voortdurende missie om die belange van fans te bevorder deur toegang te gee tot, en die geskiedenis te bewaar van, fanwerke en fankultuur, steeds aanklank vind by die mense wie vir ons mees belangrik is: die fans self.

As u van plan was om te skenk of aan te sluit en dit nog nie gedoen het nie, moenie bekommerd wees nie! Die OTW aanvaar heel jaar donasies en u kan enige tyd kies om ‘n lid te word deur ‘n skenking van VS$10 of meer te maak. Lidmaatskap strek vir een kalenderjaar vanaf die datum van u donasie, so as u nou skenk sal u in staat wees om te stem in die 2023 OTW Raadsverkiesing wat in Augustus sal plaasvind. En ons eksklusiewe bedankingsgeskenke is beskikbaar wanneer ook al u skenk!


Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is ‘n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.

Event

Comments are closed.